Koos Roets Fliekfees

Die kinematograaf, draaiboekskrywer, regisseur en rolprentvervaardiger Koos Roets vier sy 77ste verjaarsdag met die Koos Roets Fliekfees wat vanaf 18 to 20 Desember by die Showroom Teater plaasvind. Hy het sy loopbaan in 1962 as assistentkameraman op die stel van Jamie Uys se Lord Oom Piet begin. Dit is 58 jaar – en 150 produksies – later. Sy werk is al 35 keer vir toekennings benoem; hy het 33 daarvan gewen,  insluitende: 4 Artes-toekennings, 2 Rapport-Oscars, 3 ATKV-toekennings, 4 Star Tonight-toekennings asook die Stephen Farrell Lifetime Achievement Award vir uitmuntende kinematografie.

Fees Kaartjies / Besprekings

NAWEEK PAS Bespreek hier

SATERDAG PASBespreek hier

SONDAG PASBespreek hier

R50 per rolprent Bespreek hier

Kaartjies ook beskikbaar by die Showroom Teater.

Vrydag, 18 Desember

18 :00– Verwelkoming deur Koos Roets en gassprekers

18:30 – Koos Roets Dokumentêr deur Simon Barnard (45 min)

20:00 – FAAN SE TREIN (2014 / 115m)

Dit speel af in die laat vyftigerjare en gaan oor ’n eenvoudige middeljarige man op ’n klein Karoodorpie wat nooit verby die onskuld en eenvoud van ’n jong kind ontwikkel het nie. Wanneer sy pa sterf, los hy al sy besittings om tussen Faan en die kerk verdeel te word. Onmiddellik verskeur gierigheid die gemeenskap… totdat liefde hulle weer tot hulle sinne bring. Die fliek is gebaseer op die gelyknamige toneelstuk wat in 1970 deur Pieter Fourie geskryf is.  Regisseur; Koos Roets / draaiboek Pieter Fourie, Koos Roets. Met Willie Esterhuizen as Faan, Deon Lotz as Dr André Dippenaar, die burgemeester, Anel Alexander as Truia, Marius Weyers as die draadsitter-domine, en Cobus Rossouw as Oom Frik. LOKPRENT

Saterdag, 19 Desember

10:00- VLUG VAN DIE SEEMEEU (1972 / 80min)

Ná ’n verlowing van amper vier jaar verbreek Leonie haar verhouding met Fritz, ’n beroemde dirigent en komponis. Fritz hanteer dit nie goed nie en word tronk toe gestuur ná ’n tref-en-trap-ongeluk terwyl hy onder die invloed is. Hy word later vanweë goeie gedrag vrygelaat, maar is geskok deur die skynheiligheid van die mense wat hom eens aanbid het. Regisseur en draaiboek: Koos Roets. Met Don Leonard, Pieter Joubert, Trudi du Plessis, Wena Naudé, Sann de Lange en Wilna Snyman. LOKPRENT

12:00 – DIE SERSANT EN DIE TIGER MOTH (1974 / 83 min)

‘n Verliefde jong man (George Ballot) en sy meisie (Katinka Heyns) herbou ‘n ou Tiger Moth met raap-en-skraap-onderdele. Haar pa hou niks hiervan nie; hy het min ooghare vir hierdie kêrel wat beweer hy is ’n vlieënier, maar nie eens ‘n behoorlike vlieglisensie het nie. Toe sy dogter ook nog haar geliefde wit perd verkoop om geld vir die heropbou in die hande te kry, is hy briesend. Maar die tweetjies kry die vliegtuigie aan die gang en in die lug. Haar pa kry ‘n hartaanval en die vinnigste manier om hom by die hospitaal te kry, is deur die lug, per Tiger Moth. Hulle red sy lewe, en skielik is die kêrel nie meer persona non grata nie.  Regisseur: Koos Roets. LOKPRENT

 14:00 – KOOTJIE EMMER (1977 / 90min)

Gebaseer op André P. Brink se boek, Oom Kootjie Emmer, die komedie vertel van Oom Kootjie Emmer, ‘n lykbesorger en nagwadrywer op Witgatworteldraai. Regisseur Koos Roets / draaiboek André P. Brink, met Tobie Cronje, Trix Pienaar en Siegfried Mynhardt.

16:00 – NAG VAN DIE 19DE (1992 / 90 min)

Tessa loop elke jaar op die nag van die negentiende, sedert sy op die vooraand van haar troue verkrag en haar verloofde selfmoord gepleeg het, in haar trourok deur die klein vissersgemeenskap. Stukkie-vir-stukkie maak sy inligting bymekaar oor die identiteit van die verkragter. Met Dawid Minnaar, Embeth Davidtz, en  Shaleen Surtie-Richards as Maxi, die verteller van die verhaal. Regisseur Koos Roets / draaiboek PG du Plessis.

 20:00 – ABRAHAM (2015 / 94 min)

Jans Rautenbach vertel die verhaal van Abraham (vertolk deur D.J. Mouton) – ’n kunstenaar en dromer van Kannaland in die vroeë 1980’s. Abraham is ’n toegewyde familieman wat sukkel om finansieel vir sy jong vrou, Katie (gespeel deur Chantell Phillipus), en hul vierjarige dogtertjie te voorsien. Abraham se kreatiewe deursettingsvermoë lei hom na sy weldoeners, Jong Jans (Hannes Muller) en sy vrou, Almeri (Franci Swanepoel). Abraham en Katie trek na ’n nuwe huis waar Abraham begin werk vir Jong Jans. Katie se worsteling met alkoholisme en haar geestesgesondheid bedreig egter die gesin se geluk. Abraham ondersteun sy vrou ten volle, maar sy ambisie maak hom onrustig. Abraham droom daarvan om bo sy omstandighede uit te styg en sy merk deur sy kuns te maak. Die ellendige werklikheid van sy situasie hou hom egter terug. Regisseur/ draaiboek: Jans Rautenbach/ Kinematograaf: Koos Roets. LOKPRENT English subtitles

Jans Rautenbach en Koos Roets tydens die verfilming van ABRAHAM

Sondag, 20 Desember

10:00 – HOENER MET DIE ROOI SKOENE (2017 / 105 min)

Bonnie (Lizz Meiring) is ‘n ontvangsdame van die internasionaal bekende De Waal Teateragentskap. Terwyl sy een aand weer lustig voorklets op die foon, vermoor iemand haar baas, die suksesvolle, maar minder gewilde sakeman en impresario Du Toit de Waal (Deon Lotz). Sy tref hom aan met ‘n dolk in sy rug op die kantoortafel agter haar en skakel dan die polisie. Maar by nadere aanskoue van die bloeiende baas, word sy oudergewoonte flou. As sy met die flitslig van Konstabel Mickey Mentz (André Weideman) in haar oë bykom, is die lyk skielik skoonveld … Hiermee is die tafel gedek vir ‘n spannende skreeusnaakse riller-komedie vol verrassende kinkels waarin die ontvangsdame met haar bekkige papegaai Napoleon en die hoogs beneukte, geïrriteerde en grieperige speurder Kaptein Hendrik Greyling (Louw Venter), sentraal staan. Regisseur en draaiboek: Koos Roets. LOKPRENT

 12:00 – WONDERWERKER (2012 / 121 min)

’n Fliek oor die Suid-Afrikaanse digter en natuurkenner, Eugène Marais se verblyf by ’n gesin in die Waterberg in die hedendaagse Limpopo, Suid-Afrika terwyl hy in 1908 daar navorsing gedoen het oor termiete en bobbejane. Die prent is gegrond op die tydperk toe Marais siek was aan malaria en toon hoe hy die gesin by wie hy gebly het, se lewens verander Regisseur: Katinka Heyns / draaiboek Chris Barnard / Kinematografie: Koos Roets. Met Dawid Minnaar as Eugène Marais. LOKPRENT English subtitles

14:00 – ERFGENAAM (1971 / 92 min)

 Werner, die seun van skatryk sakeman, Henning Joubert keer terug na sy twee groot liefdes: die plaas en Christel die mooi dogter van ou Daan, die bywoner. Henning hou natuurlik glad nie van dié idee nie en hy smee agterbakse planne om die romanse te verongeluk. Werner kom dit agter en die vonke spat behoorlik! ‘n Bankkrotskap en selfmoord volg voor die ellende uiteindelik tot ‘n einde kom. Koos Roets was die regisseur en het ook die kinematografie behartig. Met Mitsi Stander, Don Leonard, Lourens Schultz

16:00 – DIE STORIE VAN KLARA VILJEE (1992 / 110 min)

Die fliek speel af in die laat 1950’s in ‘n klein Suid-Kaapse vissersdorpie waar die hoofkarakter sukkel om haarself van haar verlede te bevry. Nadat sy haar pa en verloofde op die see verloor, besluit sy dat sy nooit weer die see wil sien nie, en bou haar huis agter ‘n sandduin. Sy besluit ook om nooit weer vis te eet nie. Verskeie jare later ontvang sy nuus wat veroorsaak dat sy die duin stukkie vir stukkie begin opgrawe en wegdra. Sy leer dat haar verloofde nog leef, maar na Kaapstad gevlug het nadat hy ‘n plaaslike meisie swanger gemaak het. Die dorp se inwoners begin om hulle eie lewe te ondersoek en ondergaan sodoende ‘n wonderlike vernuwing. Regisseur Katinka Heyns / Draaiboek Chris Barnard / Kinematografie: Koos Roets.  Anna-Mart van der Merwe,  Gavin van den Berg

 20:00 – PALJAS (1997 – 121 min)

‘n Spoorwegwerker en sy gesin woon op ‘n afgelee stasietjie in die Karoo. Daar gebeur absoluut niks op die plekkie, Toorwater, nie en hulle seun hou totaal op met praat. , Hulle lewend verander skielik deur die koms van ‘n sirkustrein wat per abuis daar aankom en ‘n paar dae vertoef. Die seun raak boesemvriende met die hanswors en skielik kry die res van die familie se saai bestaan ‘n magiese kwaliteit. Regisseur: Katinka Heyns / draaiboek Chris Barnard / Kinematografie: Koos Roets. Met Marius Weyers, Aletta Bezuidenhout, Ian Roberts, Jan Ellis

Bonus

Episodes van KOŐPERASIE STORIES word tydens onderbrekingspouses vertoon

«